[Oorspronklik gepubliseer in Wegsleep] Namibië is my hart se punt. En na ‘n onlangse vakansie, spesifiek die suide van die land.
Die magiese Sossusvlei. Hemelhoë oker duine met skaduwees wat jou na bo en na binne, tart. Langer, breër, dunner, korter, hoër. Waar jy minder beduidend as die growwe korreltjie sand in jou hand voel. En skoon.
Die enkele gediertetjies wat hier rondskarrel lyk aanvanklik dun gesaai. Maar hoe fyner jy kyk, hoe meer spesies merk jy op. Kewertjies, geitjies, akkedisse, muise, miere, duinlewerikke. Elkeen volmaak aangepas. Vroegoggend teen die helling van ‘n duin sien jy duisende vars spoortjies wat ‘n storie vertel van heldhaftigheid of dalk net die oerinstink om te oorleef.
Tussen Sossusvlei en die Visrivier Canyon lê die Tirasberge. En hier het ‘n verrassing op ons gewag.
Die Little Hunter’s Rest-kampeerplek lê in ‘n kom binne-in die Tirasberge. Direk agter jou (waar jy jou tent onder ‘n kameeldoring, wat swaar hang aan ‘n versamelvoëlnes, opslaan) is die ruwe berg. Reusagtige donker-oranje rolblokke troon die blou lug in. Soos ‘n hele reeks Paarlberge. Tussen die rotse groei euphorbias en in die krake, vyebome en witgatbome. Voor jou lê die vlakte uitgestrek veel verder as wat jou oog kan sien. Lang spriete roomkleurige gras bedek die veld. Doer ver voor lê die Namib se rooi duine. Niks roer nie. Die wind is stil. Alles is stil. Jy is stil. En dan hoor jy krrok-rak-rak en weer en weer en jy weet binne oomblikke gaan jy die Woestynkorhaan se lang nek met sy koddige swart-en-wit kop tussen die grasse sien uitsteek.
Niemand anders kamp die aand by Little Hunter’s Rest nie en ons is verheug. Met sonsondergang klik ons kameras sonder ophou. Pastelle om ons raak so intens dat ons vir mekaar kyk en benoud lag. Kan dit waar wees? Kan pienk so pienk wees en blou so blou. Die ‘goue uur’ is gou verby en ons neem plaas langs die vuurtjie wat reeds knetter en wag vir die sterre om te verskyn.
Die natuur hier is onaangeraak. Daar’s luiperds in die berg.
Na ete gaan ons lê. ‘n Naguil roep. ‘n Jakkals tjank en toe’s dit grafstil.
Ek moes ingesluimer het, want skielik maak die wind my wakker. Hy pluk aan ons tent asof om te sê – maak gereed vir ‘n storm. Binne minute hoor jy hoe tentflappe rondruk, hoe die afdak soos ‘n seil wapper en hoe die sand die donker nagruim vul.
Op met die kopflitse. Inspeksietyd. Buite voel dit soos daai sandstormtoneel uit The English Patient. Dis net sand en wind, en pale wat beur om die tent regop te hou. En dis skielik yskoud. Die pale staan, maar dis onduidelik hoe lank hulle die wind sal kan trotseer.
Ons gaan lê weer. Nes doemprofete praat ons mekaar swak moed in. Vannag waai ons tot in die see…Dis die berugte Ooswind…Ons vakansie is verby…Die tent gaan vir seker skeur… Ons is op pad huis toe.
Dan maar weer opstaan. Dis pik, pik donker. Ons elkeen klou aan ‘n paal, maar daar is ses in totaal.
“Kom ons slaan die canopy af”, stel ek voor. “Dis ONMOONTLIK in dié wind – die oomblik as die pale waai, waai die tent en dan het ons niks oor nie”, skree Werner terug. Ek kry koud. Ons is albei kaalvoet. Hier’s skerpioene. Die wind loei en loei en ruk en pluk en druk die tent dat hy skeeflê.
Vannag, liewe Conqueror, sal jy jou naam gestand moet doen.
Dan hoor ons dit. Girrrrrrts. Dis die Velcro wat begin meegee. My tande klapper. Werner klou soos ‘n besetene aan die gevelcro-de flap en ek hang aan ‘n paal. “As dit net wil lig raak”, skree-huil ek. “Hoe laat is dit?!”
“Wat sal die lig help – dié wind kan tot oormôre waai. Dis ‘n ab-so-lu-te f….op!”
Ek plant myself stewiger en klou vir al wat ek werd is. Kaalvoet die berge oor, Karien, praat ek myself moed in. My een hand omklem ‘n paal, die ander ‘n stuk van die canopy wat teen dié tyd soos ‘n woeste brander op en af swiep. Ek voel hoe my kneukels rou skuur teen die skurwe seil.
Ek knyp my oë toe en luister na die gillende wind. Hoe hy doer agter die berg wild suis en klap, dan vir ‘n paar sekondes afneem (soos hy berg-af stroom) en die volgende oomblik is hy hier op ons en die tent, met alle mag. Elke keer – jy hoor hom daar ver, dan die stiltetjie en dan die felle crescendo-aanslag. ‘n Bisarre herinnering skiet my te binne: Dis ‘n bietjie soos wanneer ‘n vrou kraam – jy kry die aanmaning van die kontraksie wat op pad is, dan die klein verposing en dan die pyn wat jou so vasvat dat jy seker is dit nooit gaan ophou nie.
Ook presies wat ‘n sielkundige eenmaal vir my gesê het (dink ek so in die donker nag): Die grootste trauma van ‘n aanranding is die feit dat jy nie weet hoe lank dit gaan aanhou nie. Die feit dat jy nie weet hoe dit gaan eindig nie.
As daar net nog kampeerders was! As die boer van die plaas net kan kom kyk of ons die storm oorleef. Maar niks. Dis net ons twee, die wind en die swart nag.
Klink-klink-klink begin die pale die een na die ander meegee en ek het nie genoeg hande om hulle elke keer weer in mekaar en in posisie te druk nie. Die tentpenne begin om die beurt uittrek. As die Velcro gaan, gaan die hele tent…
Skielik is daar ‘n massiewe rukwind en die besluit word vir ons geneem – al ses pale vlieg gelyk die lug in en al wat ons kan doen is om die seile plat te val en teen die boswa te lê met ons lywe se gewig. Werner teen die Velcro-deel en ek teen die ander kant.
So lê ons semi-verkluim vir wat na ure voel plat teen die seile en bietjie vir bietjie word dit lig oor die Tirasberge. En die wind waai nie meer die heel tyd nie, maar net met rukke en stote soos ‘n Lister-enjin op sy laaste bene. Die versamelvoëls vertrek soos ‘n gedempte vuurpeloton op hul oggenduitstappie en ek verbeel my ek hoor krrok-rak-rak agter die eerste duin.
“Dankie tog ons het gisteroggend die sonsopkoms afgeneem”, huil-lag ek. Vanoggend gaan daar net tyd vir damage-control wees.
Binne ‘n paar minute is dit windstil. Die sand in ons ore en tussen ons tande en die sout bloed, die getuienis van ‘n surrealistiese nag.
Namibië bly my hart se punt. Ek het die Ooswind oorleef. Ek glo ek het nou my verblyfreg verdien.