Another hundred people just got off of the train/And came up through the ground/While another hundred people just got off of the bus/And are looking around/ At another hundred people who got off of the plane/ And are looking at us/Who got off of the train, and the plane, and the bus/ It’s a city of strangers.
Dankie Stephen Sondheim.
Melbourne is voorwaar ook “a city of strangers”. En tog voel ek tuis. Voel ek deel van die polsende organisme. Maak ek my bolla los en swaai my handsak. Selfs met my eerste besoek.
Stadskaart in die hand, loop ek met Swanston Street af, verby die stadsaal. Verby moderne geboue wat tussen erfenismonumente uittroon. Op pad na die kunsgalery wat tot drie dae gelede (drie dae gelede!) ‘n Van Gogh-uitstalling gehuisves het. Alles in die lewe gaan oor tydsberekening, hoor ek myself sê.
Dan maar die stad se argitektuur geniet. In by St Paul’s-katedraal. Die Gotiese gebou voel vreemd bekend. Donker. Stil. Marmer en albaste. Venesiese glasmosaïek teen die vensters.
‘n Glimlaggende Chinese vrou nooi my om die 10:00 diens by te woon. Sy stop ‘n pamflet in my hand: Welcome to the Mandarin Worship Service. “Just follow the English”, sê sy.
Wanneer laas was ek in ‘n Anglikaanse kerk? Ek dink in Kimberley laas – iewers in die 1990s. Dis of ‘n magneet my neersnoes op die houtbank. En oomblikke later kom die bekende woorde “the Lord be with you” en jare se oefening laat my “and also with you”, antwoord.
Hier sit ek in ‘n vreemde kerk, in ‘n vreemde stad, en ‘n vreemde land. Maar ek voel nie alleen nie. Dan volg die Call to Worship, die Prayer of Preparation, die Confession and Absolution.
Met “the peace of the Lord be always with you” groet die Chinese mekaar met soveel warmte dat my dikwels negatiewe gedagtes rondom dié nasie, momenteel in die kiem gesmoor word. Die priester, ‘n blinkvet Winnie-the-Pooh stap tot by my, vra my naam, en blom toe ek sê ek’s van Suid-Afrika. “Oooh, the country of Nelson Mandela!”
Terwyl hy sy preek in Mandaryns lewer, dwaal my gedagtes ver. Tot in Kaapstad, waar my vriendin se man besluit het teen chemo. “Ek dink elke dag hoe ongelooflik geseënd ons is”, sê sy nou die dag. “So min mense het eintlik so ‘n goue tyd saam en die geleentheid om doelbewus seker te maak jy drink elke oomblik saam in, en doen ‘n back-up van al die herinneringe, hoe moeilik ookal.”
Die gemeente sing “The Lord’s my Shepherd, I’ll not want”. Dit klink vreemd in hierdie totaal onbekende taal, maar tog ook oer-bekend.
My vriendin sê elke koppie koffie saam proe anders, en elke aanraking brand ‘n merk in ‘n mens se brein.
Die gemeente sing weer. “What a friend we have in Jesus.” Dit kan nie wees nie! Ek is weer ses en agt en 10 jaar oud, en verlief op Hallelujalied 444. In my klein bruin hallelujaboekie sing ek lustig saam – “Hy wat in ons plek wil staan; wat ‘n voorreg om gedurig, na God’s troon deur Hom te gaan.”
Die leerkussing wat voor my hang is al voos gebid. Die oumatjie wat die klavier speel beweeg moeilik en met twee kieries, die vroue wat voorsing se stemme is oud, maar soet.
So soet soos Stellenbosch se aarbeie in Desember. Vanjaar gaan hy waarskynlik nie meer dié vrug teen sy verhemelte kan pers nie. Of die suikerstroop oor sy tog voel nie.
En skielik oorval ‘n diepe dankbaarheid my dat ek te laat was vir Van Gogh, maar betyds vir Hallelujalied 444.