[Oorspronklik gepubliseer in YELLOW DOOR op 2 Julie 2013]
Karien Jordaan is vandag gelukkig. Oor ‘n simpel dingetjie.
Verrassings is gewoonlik van die lekker soort.
Wat is lekkerder as ‘n bonustjek uit die bloute? Of as jou span teen die verwagting in, wen. Of as jy laat aand lus is vir sjokolade en ‘n huisgenoot diep een uit ‘n donker laai op wat hy vroeër daar weggesteek het. Of, in my geval, as Rafael Nadal in die eerste ronde van Wimbledon uitgeskakel word.
My ma vertel altyd van haar verrassing toe sy minute ná die geboorte van my oudste suster by die dokter moes verneem dat daar nog enetjie binne is. Om van Susan Rosenkowitz nie te praat toe haar voorgeboorte-ondersoek SES hartkloppies getoon het nie.
Halle Berry was vroeër vanjaar (op 46) uit haar vel toe sy besef sy’s vir die tweede keer swanger.
Hoe (onaangenaam) verras was die wêreld egter nie toe 918 Jonestown-inwoners vrywillig sianied gesluk het (en hoe anders was ‘n mens se assosiasie met Kool Aid nie daarna nie)…
Maar sekerlik MY grootste verrassing in jare het my enkele dae gelede uitgeboul.
‘n Oproep uit die bloute: “Mevrou, jou tjekkie is gereed. Jy kan maar kom afhaal.”
“By Mangaung Metro? Waarvoor? Dis sekerlik ‘n grap. R1 500?! Het ek iewers te veel betaal? Ek’s seker jy maak ‘n fout…”
En sowaar – toe onthou ek: Presies ‘n jaar gelede het ek met my motor in ‘n yslike onbedekte mangat beland en het besluit om dit nie daar te laat nie. Ek het ‘n foto van die gat geneem; die beskadigde band deur die munisipaliteit laat evalueer; twee kwotasies vir die herstel gekry; ‘n brief geskryf waarin ek stipuleer dat ek Mangaung aanspreeklik hou; en als netjies in ‘n lêer aan Kamer 430, Bram Fischer-gebou, besorg. Op die vloer was hope en hope EN hope soortgelyke eise. Ek het eintlik nooit weer daaraan gedink nie.
Daarom was ek uit die veld geslaan toe Mev. Smith my bel met die nuus van die tjek.
Dit wys my wat?
Als is nie verlore in ons land nie. Ook nie in die Metro van Mangaung nie. En dit maak my vandag gelukkig.