[25 Mei 2017] ‘n Mens hoor dikwels van mense met groot liggaamlike beproewinge wat hulle nie deur die swaarkry laat onderkry nie en wat nog kans sien om ‘n lewensvreugde uit te straal wat die mense rondom hulle verstom.
Presies een van dié mense was Datei, oftewel Pieter Cornelius Johannes Jordaan, volgens ‘n resensent in Die Burger van 17 Julie 1964.
Ek het Oom Pieter nooit self geken nie, maar het groot geword met die wete van die ietwat misterieuse wyle oom aan vaderskant. “Datei was ‘n uiters talentvolle skrywer, my kind,” het Ma dikwels vertel. “Tafelberg het twee van sy boeke uitgegee en jy weet hy was nog nie eens 29 nie toe’s hy dood. Maar altyd sieklik en maar eintlik aan Ouma Mollie se rokspante vas, met dié dat hy eers hier op vyf regtig begin loop het en maar altyd hulp nodig gehad het.”
Die familie was trots op hul ‘gepubliseerde’ broer en oom. Ure met Horings en Ure vol Seesand. Ek, seker selfs ‘n bietjie meer as die ander, danksy my pa wat vir die Afrikaanse letterkunde ‘n groot passie gehad het, maar wat weens verskeie redes nooit dié liefde behoorlik uitgeleef het nie. Ons twee het dié passie gedeel en ek hoor hom nog eindeloos voordra en aanhaal uit Totius en A.G. Visser. My gunsteling was N.P. van Wyk Louw.
Vir jare al wil ek die Louw-huis-museum op Sutherland besoek. Datei se boeke, foto’s en ander besonderhede word neffens N.P. en sy broer, W.E.G. in hul grootwordjarehuis, uitgestal. Van my sibbe was al daar, maar weens ‘n tekort aan geld is die museum meestal gesluit en moes hulle onverrigter sake weer vertrek.
Op ‘n droë wintersmiddag een onlangse Saterdag sleep ek die dorpie binne. Verlatenkloof is minder steil as wat ek dit onthou en van ‘n motor wat oorverhit, soos die talle kere wat ons my grootouers op ‘Sitterland’ besoek het, is daar vandag nie sprake nie.
My eerste missie is om Oupa Fanie se huis te kry – in die straat naaste aan die rantjie, skuins agter die skool, waar ons slaghuis-slaghuis met hotnosvyeblare gespeel het en saans gehelp het met die vasdraai van die windpomp. In die winter, almal in die kombuis voor die Aga-stoof saamgebondel. Dit was altyd koud, en soms is ons beloon met sneeu – nie ysreën nie, maar behoorlike sneeuvlokkies wat sommer gou teen die bome begin hopie lê.
Die huis is skaars herkenbaar, soos nuwe eienaars telkens verbeteringe aangebring het, en ek beweeg aan na die begraafplaas waar my grootouers en pa te ruste lê, op die pad na die wêreldbekende SALT-teleskoop. Na dié teleskoop se koms was die sterre se helderheid al wat oorgebly het van die dorpie se karakter. ‘n Mens sukkel nou om verblyf te kry, ten spyte van die swetterjoel gastehuise wat opgeskiet het en steeds vermeerder. Die talle restourante is ook naweke vooruit volbespreek.
Primrose Cotttage se Denise lag toe ek vra of dit veilig is om die begraafplaas te besoek. “Misdaad? Nee wat, dié ken ons nie op Sutherland nie.”
Ek vind die kerkhof, dubbele graf en die kissie met my pa se as, maklik. Die wind waai yl oor die verdroogte rapysbossies. Dieselfde bleek bossies waar my pa, en seker ook Datei, as kinders gespeel het. Die enigste spatsel kleur in die Karoo-vaalte, ‘n bokmakierie wat in die grond skrop. Sou enige wurmpie in hierdie barheid kan oorleef!
Soos ek terugstap kar toe sien ek ‘n grafsteen in die vorm van ‘n boomstomp, en sowaar, dis Oom Pieter se graf. Daar staan dit: In tere herinnering aan Pieter Jordaan (Datei) Geb 7 Nov. 1924, Oorl. 2 Julie 1953. Die Here alleen het hom gelei. Deut.32 Vers 12.
Nou is ek eers vasberade om die Louw-huis van binne te sien. Dooiemansdeure en onbeantwoorde selfone bring my nie van stryk af nie. Dis ‘n klein dorpie – selfs op ‘n Satermiddag sal ‘n klein ‘aansporing’ iewers iemand motiveer om ‘n deur te kom oopsluit.
My moeite word beloon. Die huis is gevul met die Louw-broers se geskiedenis, ander Sutherlandboorlinge wat ook hul merk gemaak het se doen en late, en daar in die voorportaal, agter glas, ‘n kopie van beide Datei se boeke asook sy suster Anna se twee boeke, Iemand soos Tant Breggie en Hou-den-bek. Ook is daar verskeie foto’s van hom en sy sibbe asook ene Vincent van der Westhuizen wat sy vroeë dood lamenteer:
Waar ongewenste onkruid welig tier,
O Heer, waarom moes hy dan gaan, die één
van enkel blomme wat hul geur versprei
en aan dié woesteny ‘n glans verleen
… … …
Waarom moes, Heer die tenger stengel knak,
die roosfyn blare op die grond verwelk,
verbrysel word? Is dit maar altyd so –
is distels groter as die Aaronskelk?
En dan na die kerk, wat in die middel van die dorp wit uittoring, waar al vyf die Jordaan-kinders gedoop is en later aanbid het. Daar waar Calvyn sy houvas op hulle bevestig het. Sondag na Sondag. Daar waar my pa (het ek hom maar in lewe gevra of dit werklik toe al was) vrae begin vra en uiteindelik (en tot naby aan sy dood) sy pad sonder die kerk begin stap het.
Terug in Bloemfontein kon ek nie wag om NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum te besoek nie.
En ja, sowaar. Datei en Anna se werk is vir die nageslagte bewaar. Boeke, biografieë, koerantknipsels. Die personeel bring alles uit stoorplekke te voorskyn en ek verlustig my in die inhoud. Dalk is die skryfstyl effe oudmodies, maar soos een opskrif lui: Opregte gesinsboek om voor kaggelvuur te lees.
“Hoekom kom roep jy ‘n mens dan nie? Jy’s altyd so kordaat met jou roepery.” “Kyk hier, Johannes, ek hét jou geroep; ek het jou twee, drie maal geroep. En een ding wil ek jou nou sê, en jy moet dit aseblief goed verstaan: Een môre is een môre – ek laat jou lê tot jy self wakker word!”
Dankie aan die bewaarders van die geskiedenis.
En dankie Pa dat jy my lief gemaak het vir woorde, al was jou pad so hard soos die Roggeveldrantjies.