
[Desember 2020]
Alex woon in ‘n glashuis. Hy gooi nie klip nie.
Alex se glashuis is ‘n argitektoniese wonder. Dit het sy eie mikroklimaat, drupbesproeiing, beligting, komposverwerking, lugfiltrering, en verbasend genoeg, as die grootte van die huis in ag geneem word, is daar nooit ‘n oomblik se verveling binne die mure nie.
Vriende wat by Alex kom kuier, loop nooit weer nie.
Alex se glashuis maak sy eie musiek. Op en af met die toonlere mier die note. Kruis en dwars. In allerlei sleutels. Om en om. Veral om en om, vinniger en vinniger, totdat die note teen die glasplafon spat en afval tot op die sagte, groen mat, waar Alex hulle een vir een afspoel en in ‘n hopie versamel vir later.
Alex het nie altyd in die glashuis gewoon nie. Hy het eens klip gegooi.
Alex se glashuis is ‘n botaniese wonder. Hy moet nou en dan ‘n bietjie aandag gee aan die grasse wat stotter, maar die res van die tuin groei sonder aanmoediging. Alex loop so stadig soos Mary Oliver hom aanraai en buig gereeld voor sy vyeboom – soms met sy hele lyf, soms met ‘n knik van die kop.
Vriende wat by Alex kom kuier gebruik nie die voordeur nie. Hulle kom in deur die dak, wat hy twee keer per jaar op ‘n skrefie oopmaak. Alex se vriende het ook eens klip gegooi, maar hier in die glashuis draal hulle om en om soos die note wat soms in toonlere tot teen die glasplafon opklim. Hulle bly vir altyd.
Alex se buurman is ‘n bakker. Sy suurdeegbrode, ware kunswerke. Die ander dag se dark ale-brood, ‘n goeie voorbeeld van fenomenale vernuf. Alex verbeel hom hy ruik die brood, net voordat dit uit die oond gehaal word.
Alex se buurman woon ook in ‘n glashuis. Hy gooi ook nie klip nie.
Want Alex en sy buurman onthou die kere toe hulle in ‘n ander man se dubbelbed kaperjolle gemaak het. Agterna hul lyf Dirkie Skoonpapier gehou het. Hulle onthou nie al die beddens nie. Alex onthou wel die een keer toe sy polshorlosie ongesiens losgekom en onder die kaperjolbed beland het. Saved by the cleaning lady.
Alex en sy buurman verstaan van mooibroodjies bak. Buurman het trouens nooit ophou bak nie. Kompulsief sweer hy by sy rooibosbessie-en-okkerneut-nommer.
In Alex se glashuis roer die bonsaiblare en roep “Stay awhile.” Daar is lig op die vyeboom se takkies. Die blare roep weer, “It’s simple, and you too have come into the world to do this, to go easy, to be filled with light, and to shine.”
‘n Klip wat ‘n terrarium tref bons soms weg, sonder enige ooglopende skade.