[Oorspronklik gepubliseer in Yellow Door]
“Keep in mind that the true measure of an individual is how he treats a person who can do him absolutely no good.” Ann Landers.
Ann Landers kon met gemak my beste vriendin gewees het. Ek ken sulke mense – het sulke kollegas. En vriende. Wat vir jou goed is en goed doen sonder om selfs vaagweg enigiets terug te verwag. Niks onder-deur die tafel of bo-oor die onderdeur nie. Net anti-pole van hebsug. Hulle ken hulle eie identiteit – weet werklik wie hulle is en ken daarom geluk en sekuriteit.
En dan is daar die soekendes. En dis natuurlik op hulle wat die opportuniste toeslaan.
Ek gaan jou nou moontlik skok. Waarskynlik gaan jy my verdoem. Dalk gaan jy met ‘n sagte oor luister en tog ‘n bietjie nugter nadink.
Ek het ‘n hekel aan, ‘n renons in, en ‘n afkeur van mense wat openbare platforms gebruik om hulle Christenskap af te dwing op ander. Ek was onlangs by ‘n fondsinsamelingsfunkie van ‘n betrokke (sekulêre) skool waar die gaskunstenaar van die aand losgetrek het en die gehoor breedvoerig vertel het van hoe hy tot die Lig gekom het en hoe Monumente op sy pad verrys – geplaas deur die Hoër Hand homself. Per se is daar natuurlik niks mee verkeerd nie en dis wonderlik as ‘n mens so ‘n intieme verhouding met jou Skepper het. Maar die evangelistiese, histeriese, openbare, emosionele vertoon waarmee ”persoonlike getuienis” dikwels gepaard gaan, is vir my een te veel. As jy ongevraagd aan ‘n onbekende groep (‘n gevange gehoor), buite kerk- of godsdiensverband ‘n bekeringspreek lewer, het ek ‘n probleem daarmee.
Dit bring my by die tweede ding in dié verband waaraan ek ‘n broertjie dood het. Die kommersialisering van gospelmusiek. Ek besef dis nodig vir lofprysing. Van die oudste tye word musiek immers gebruik om Sy grootheid te besing. Maar as mense soos Nicholas Louw ook skielik sy getuienis van verhoë begin uitblaker, dan moet ek wonder of die feit dat gospelmusiek ‘n topverkoper is ‘n rol speel.
Ja, sê jy, maar wie is EK om te sê die Nicholas Louws van die wêreld is nie opreg nie? Natuurlik behoort ek dit nie te sê nie. Maar ek moet ongelukkig met Mahatma Gandhi saamstem wanneer hy sê “I like your Christ, I do not like your Christians. Your Christians are so unlike your Christ.”
Ek haal my hoed af vir Kovsie Rektor Jonathan Jansen dat hy weggedoen het met gebede voor vergaderings. Moenie bekommer nie – ek bid ook. Maar dit word vir my binnekamer gereserveer.