[Oorspronklik gepubliseer in Yellow Door]
Ek was onlangs in Kovsies se Odeion-teater vir Beethoven se Keiser-concerto. Die saal was gepak.
In die ry voor my was ‘n sussie en boetie – seker so by die 10 en 7 jaar oud onderskeidelik. Beste Sondagkleertjies aan. Boetie se hare met hip punte gewax en Sussie s’n met ‘n vrolike strik in ‘n poniestert vasgebind.
Die program het nog skaars begin, toe raak Boetie se kop slap. Sussie se elmboog pomp kort-kort na regs, maar Boetie is nie gebore instaat om wakker te bly nie. Sussie egter, volg soos ‘n meerkat elke nuwe klank. Links en regs draai haar kop.
Ek kon nie besluit oor wie sy die meeste verwonderd is nie – die harpspeler of die Colombiaanse dirigent. (My geld was op die dirigent – die eerste twee ‘lywige’ werke het hy geheel en al sonder partituur gedirigeer. Verstommend. Ek sukkel om twee selfoonnommers te onthou – laat staan nog twee miljoen note!)
Nietemin, Sussie se volgehoue pogings om vir Boetie wakker te hou, het my teruggevoer na die eerste keer dat ek ‘n simfonie-orkes sien speel het.
Dit was in die Kaapstadse stadsaal. Daai dae kon ‘n mens elke Sondagaand gratis gaan luister – mits jy bereid was om agter die orkes op die verhoog te sit – op harde bankies.
Ek het ‘n ouer broer wat op ‘n keer ‘n meisie met dié ekskursie probeer beïndruk het en ek (ongeveer 10) is saamgesleep as ekstra sagmaakmiddel. Eintlik was hy versot op die Beatles, maar het besef dat hy weier kan ‘slaan’ met die tikkie oënskynlike sofistikasie.
Alles omtrent die stadsaal was oorweldigend. Die parkering op die sopnat Parade teen skemeraand; ‘n see van swart sambrele uit teen die Kaapse reën; die gaste wat in pels en aandpak mekaar in die foyer en op die imposante trappe verdring; die geroesemoes van (hoofsaaklik) Engelse stemme – van bekendes wat oor ander se koppe groet; die reusagtige kandelare wat uit die dak hang; supersagte rooi matte; ringkoppe wat in die ’losies’ sit en op ons afkyk; die verhoog se baie hout en helder lig; die orkeslede wat een vir een aankom; die kakofonie van die instem van die instrumente; en dan uiteindelik die gewyde stilte voordat die dirigent ingestap kom.
Dié oomblik is in my geheue ingebrand. Sy naam het ek vergeet, maar hy het ‘n manelpak gedra en blinkleer puntskoene. Sy hare was raafswart met ‘n definitiewe kantpaadjie en sy dirigeerstokkie sneeuwit.
Ek het geweet ek moet vir Boeta help met die meisie-beïndrukkery en het die boodskap woordeloos gekry dat ek die ‘kenner’ van klassieke musiek in ons huis is. Ek neem immers al vier jaar lank klavierles. Ek moet ingelig lyk, in vervoering oor die goddelike mooi musiek. En boonop gereed staan met antwoorde, sou enige opduik. My 10-jarige lyfie was bang vir die onbekende wat my enige oomblik as ‘n fake kon uitvang.
Waarheid is, alhoewel die ondervinding met ‘n klimaks afgeskop het en my tot vandag toe bybly, was ons min of meer aan die einde van die eerste beweging van wat ookal dié aand gespeel is, toe ek voel my ooglede word swaar. My broer was my held en ek wou hom ten alle koste nie teleurstel nie. Paniekbevange het ek teen die vaak begin veg. In die verblindende ligte ingekyk tot my oë traan, regop soos ‘n kers gesit, kort-kort die een been oor die ander gekruis, my oë vir klein rukkies toegemaak in die hoop dat die vaak sal uitwoed, myself geknyp, my oë om die beurt geknip, die orkeslede getel, die knope op die dirigent se baadjie getel, maar helaas.
Ek het wakkergeskrik met die finale applous. Met my kop op my broer se bobeen.
Nou-die-aand in die Odeion het Sussie, wat aanvanklik so braaf vir Boetie probeer wakker hou het ook uiteindelik weggeraak.
So lê die tweetjies toe daar in die ry voor my – kop op skouer op kop. Ver ver weg in die soetste slaap.