[Oorspronklik gepubliseer in Yellow Door]
My vriendin het kanker. Sy was 12 jaar in remissie. Die kanker is aggressief. Sy is aggressief. Sy was nou-die-dag 50.
‘n Ander vriendin is verlede week dood aan kanker. Sy was nooit in remissie nie – sy het twee jaar lank verbete geveg. Haar einde was vol pyn en angs. Sy was nou-die-dag 50.
My vriendin-sedert-standerd-ses sê om 50 te word is ‘n oorstap, ‘n instap, ‘n inhuppel. ‘n Indans in ‘n nuwe era. Sy sê ek moet die uittrap van daai nuwe riel geniet.
1959 – die jaar van my geboorte – die jaar toe Billie Holiday dood is. Dis ook die jaar dat Sound of Music op Broadway geopen het. En Fidel Castro die überdiktator geword het. In dié jaar het die Dalai Lama uit Tibet gevlug en het Barbie vir die eerste keer haar oordadige borste en lang bene op winkelrakke uitgestal.
Uit my ma se baarmoeder het ek gehoor hoe Louis Armstrong se rasperstem Mack the Knife uitkreun. En hoe sy saam met Elvis, One Night, sing terwyl sy met ‘n besemstok om en om die kombuisvloer draai.
En hier is ek nou. Ek kyk na die twee arms wat by my trui se moue uitsteek en ek sien my ma se verrimpelde hande. Vroeër was ek ontevrede met my hande. Nou weet ek dié twee hande kan klavier speel, kan liefkoos, kan groente skil, kan troos, kan blomme pluk. Kan ‘n kaaskoek bak. My twee pragtige hande.
Want skielik maak dit nie meer saak dat my bobene die ene selluliet is nie. Ek worstel nie meer met to botox or not to botox nie. Dit pla nie meer dat ek nooit ‘n convertible Peugeot gaan besit nie. Hoe groot my huis is, is totaal onbelangrik. Ek skrik nie meer as ek vroegoggend in die spieël kyk nie.
Breyten Breytenbach sê “die lekkerste stuk lewe is die laaste/ wanneer jy die hef teen die been tik/ om desnoods met ‘n bewerige vinger die soet murg uit die holte te krap”.
Etienne van Heerden sê “die deug waarvoor ek onthou wil word? My waardering vir die vroetel van die voorste punt water deur die droë kluite van ‘n groentetuin”.
Amen, sê ek. Ek wil die skoonheid van alledaagse dinge beleef – wolke, bome, ‘n dralende deuntjie.
Welkom, sê my Vriende-oor-Vyftig. En as jy weer ‘n wensskyfie in ‘n nartjie kry, wens dat jy die verandering in die drom se ritme helder kan hoor, want slegs dan verander die dans.